ESolo







I did a shoot with Ernie Solomon. Here is his story:


Ernie (Lastig) Solomon was eens ’n gevreesde gangster, maar nou praat hy namens sy mense op ’n nuwe CD. Anna-Retha Bouwer het met hom gesels.

Solomon se lyf vertel twee verhale.
Honderde “tjappies” (tuisgemaakte tronk-tatoeëermerke) op sy bolyf en ’n paar littekens vertel van ’n rowwe lewe in die backstreets op die Kaapse Vlakte. Groot, goue ringe met rooi stene en ’n ketting om sy nek kleur die prentjie verder in.

Maar agter sy brilletjie blink sy oë met ’n sagte lig en daar is ’n bedeesdheid in die manier waarop hy sy hemp uittrek vir die fotosessie en op verweerde motorbande neersak.

“Dis hoe ons grootgeraak het,” sug hy. “So tussen die tyres.”

Solomon kén die lewe op die Kaapse Vlakte; hy kén die binnekant van ’n tronk; en hy kén veral die lewe van die bendes wat albei hierdie plekke regeer.
Maar nou het hy genoeg gehad.

Hoewel hy lankal musiek maak, is hy veel meer reguit op sy nuutste CD, Society, waarvan die musiekvideo, Ons is almal society, onlangs voltooi is. Nou vra hy met die verhoognaam Esolo vrae – ongemaklike vrae. Só ongemaklik dat TV- en radiostasies skrikkerig is om dit uit te saai.

“Ek het dit verwag, ja,” sê Solomon.

“Hulle laaik dit nie as jy vrae vra wat seermaak nie.”

Waarvoor hy deesdae baklei, so van die vergete kant van die gemeenskap af, is dat die siklus van bendegeweld gestop en almal deel word van die society waarvan die mense praat.

“Almal kan uit die gangs kom, maar onse mense makeer mos help,” sê hy.

“Dié wat ons daar gesit het, moet ons help om daaruit te kom.”

Dis ook nie een politieke stelsel wat “sy mense” in die backstreets gesit het nie. “Dis stelsels. Dit gaan nou slegter daar as voor 1994. Baie slegter.”

Solomon sê hy’s nie ’n educated man nie. Hy is in gr. 3 uit die skool uit.

“Dit was maar weens omstandighede. My pa het nie geld gehet om my langer op skool te hou nie en my ma was maar ’n gewone huisvrou.”

Dáár, in die stofstrate van Louw-se-bos naby Elsiesrivier in die Kaap, het ses van hulle in ’n “plaathuis” grootgeword.

Sy paaie het met “verkeerde mense” s’n gekruis. “Ek het heeltemal ’n ander persoon grootgeraak as wat ek wou gewies het.”

Eers was dit “petty kraaimpies” en later was hulle “gruwelik”.

Toe Solomon 14 was, het hy vir sy neef ingestaan toe dié weens ’n inbraak in hegtenis geneem is. “Hy was ’n lid van die Tokai Boys-bende en hy sou twee jaar moes tronk toe gaan. Toe sê ek dit was ek, want ek was jonk en sou net ses houe met die rottang gekry het. Dit was séér!”

Maar so, vertel Solomon, het hy nog verkeerde “vrinne” gemaak.

“Voordat ek my kom kry, was ek binne-in die tronk.”

Sewe jaar lank.

Solomon was ’n gevreesde man op die Kaapse Vlakte en sy naam is veral met perlemoensmokkelary verbind.

Dertien jaar gelede was daar ’n skietery by sy huis. Hy was nie daar nie, maar sy kinders wás en almal is gewond. Dit was ’n soort keerpunt.

“Mevrou maak ook mos kinners groot? As my kinders eendag hoor hulle pa was dié en daai mens, moet hulle dit nie kan glo oor die mens wat ek nou is nie.

“Ek is nou 14 jaar sonder cigarettes, wyn en dagga. En as ek daardie dinge kon gelos het, moes daar mos iets in my mind ingekom het, want hier, vandag, het ek dit dan nog steeds gelos.”

Baie mense glo steeds nie hy kon verander nie. “Ek onthou toe ek ’n bandiet was, het die bewaarder se vrou met haar kindertjies in die pad afgekom. Daar wys een kind na my en sê: ‘Haai ma, daai bandiet lyk darem baie soos ’n mens!’”

Hy lag en hou sy maag vas.
“Die ding dat mense nie jou verkeerde goed wil vergewe nie, is maar jou straf. Verstaan nou? Jy moet dit dra.”

Sy mense, sê Solomon, is verslaaf aan gangsterism, maar almal wil nie deel daarvan wees nie. “Jy dink net later daar is nie ’n ander manier om te survive nie.”

“Maar daar moet gepraat raak met hulle. Mense moet wys hulle gee om.”

En dan: “Mevrou, as ’n mens in die tronk was, kom jy nie normal anderkant uit nie.

“Ek het mos nie skool gegaan nie, maar ek bestudeer mense. Op die ou end voel ons almal dieselfde ding. Die gangs baklei oor dieselfde goed en dan eendag kom jy agter dit was eintlik niks, maar dan is daar mense dood.

“Nou praat ek saam met my mense op my CD’s. Dis nie om fame te kry nie, ek praat uit my gevoelentheid uit.

“Ek het ook nou besluit ek wil nie meer ’n kleurling wees nie. Ek is ’n Suid-Afrikaner. Ek wil deel wees van die society.”


2 Replies to “ESolo”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s